Publikasiemoontlikhede by uitgewers is beperk. Dis die realiteit. Boeke wat by uitgewers verskyn het egter voordele en nadele vir ’n skrywer. Die uitgewers neem die finansiële risiko en daarmee saam volle beheer oor die voorkoms, hoeveel gedruk word, hoe lank dit in druk bly, bemarking ens. van die boek.
Jy kan ook self jou boek uitgee. Dan is alles met betrekking tot die boek in jou hande. Met die nuwe elektroniese tegnologie tot ons beskikking, is dit ’n moontlikheid wat meer en meer ontgin gaan word. Ek het dit ’n interessante en bemagtigende ervaring gevind na soveel boeke wat deur verskillende uitgewers uitgegee is.
Die storie kan uit jou lewe kom of fiktief wees, maar of ’n uitgewer die boek publiseer en of jy dit self doen, as jy verwag dat ander jou boek moet lees en dit geniet, moet dit oorspronklik en goed/leesbaar geskryf wees met ’n boeiende storie (’n storie wat lesers sal wil lees). Dit geld vir lesers (hoorders, indien hulle nog nie kan lees nie) van alle ouderdomme.
Jy kan ook deel waarvan jy baie weet (nie noodwendig in storievorm nie) soos ek gedoen het met “skryf”. Ek het baie kennis en ervaring van “skryf”. Waarvan weet jy baie?
Hier is dus wenke en raad vir mense wat self wil publiseer wat ek deur ervaring ingewin het. Niemand het vanself inligting oor ’n onderwerp nie – jy versamel inligting soos jy dit benodig.