In my ervaring betaal sommige uitgewers 15% van die prys waarteen ‘n boek aan boekwinkels verkoop word (ongeveer 40% minder as die prys wat op die boek staan, wat die boekwinkels se deel is. Die boekwinkel moet nog 14% BTW betaal, wat by die prys gevoeg word). Vir ‘n boek wat teen R114 in ‘n winkel verkoop word, sal die uitgewer dus R60 kry en die skrywer 15% van R60, dus R9.
Ander uitgewers betaal 12% van die prys waarteen die boek verkoop word (sonder BTW) aan die skrywer. Indien die boek dus R100 kos (sonder BTW) sal die skrywer R12 vir ‘n boek kry.
Die uitgewer dra dan al die onkoste verbonde aan die maak en verspreiding van die boek. Hoe meer boeke jy druk hoe goedkoper is die drukkoste.
Soms word die outeursaandele aangepas as die boek baie goed verkoop.
Skrywers kry 1 of 2 maal ‘n jaar slegs outeursaandele vir boeke wat verkoop is, asook ‘n staat waarin die verkoopsyfers uiteengesit is.
Indien ‘n boek illustrasies in het, word die illustreerder of ‘n lompsom betaal, wat afgaan van die skrywer se outeursaandele (dus minder as 12% of 15%) of die skrywer en illustreerder deel die 12% of 15%.
Boekwinkels vereis ook meestal dat amptelike verspreiders gebruik word waar hulle die boeke kan bestel as ‘n koper dit wil bestel. Verspreiders neem natuurlik ook ‘n persentasie van die prys van die boek en dit word verhaal van die uitgewer.
Neem ook posgeld in ag as jy self jou boeke wil versprei.
Vryskutredigeerders, taalversorgers, ontwerpers (van voorblaaie) en uitlegkunstenaars se fooie wissel.
Neem al hierdie dinge in ag! Jy sal self moet probeer bemark en dit gaan energie, tyd en dalk geld kos.
Hoeveel Afrikaanse boeke word jaarliks deur uitgewers gepubliseer en hoeveel eksemplare word verkoop? Ek weet nie. Probeer uitvind.