A. Inhoud.
1. As jy iets skryf wat jy graag wil deel met ander – indien jy dus wil hê dat ander dit moet lees, moet jy leesbaar skryf.
Wat is leesbaar? Jy as leser sal weet. Waarvan hou jy om te lees? Skryf so!
2. Hoe maak jy seker dat jou skrywe die beste is wat jy kan doen?
a) Jy kan jou eie werk verbeter. Hoe? Sien Dag 39 in Die land van stories
b) Jy kan medelesers se kommentaar vra.
c) Daar is mense wat vir jou ’n professionele opinie sal gee (teen ’n fooi). Ek het nie ’n lys van sulke mense nie. Jy sal moet soek en navraag doen. Navorsing oor wat en hoe jy wil skryf, is deel van die groeiproses van jou as skrywer.
3. Hoe hanteer ’n mens kommentaar/kritiek van ander? Sien Dag 40 in Die land van stories
Jy verwerk jou skrywe so goed jy kan met die insette van ander.
4. Wat doen jy nou?
Indien jy die onkoste aangaan om jou eie werk uit te gee, moet jy seker maak dat nie alleen die inhoud nie, maar ook die voorkoms van die teks “aantreklik” is vir lesers.
Dink aan die kritiek wat jy soms uitspreek oor ander se skrywes en maak seker dat jy aan jou eie vereistes voldoen.
a) Taalversorging en redigering: Daar is baie gratis speltoetsers. Maak seker dat jou teks so goed is as wat jy dit kan kry.
Kry ’n professionele taalversorger en redigeerder om jou teks deur te werk. (Dit gaan geld kos.)
Doen wat nodig is.
Nou is die teks so goed as wat jy dit kan kry.
b) Uitleg: Jy kan iemand kry om die teks vir jou uit te lê -dit gaan jou geld kos- of jy kan dit self doen met M.S.Word, onder andere.
Let op kantlyne (margins) – die bind van ’n boek neem ’n sentimeter of twee in beslag aan die binnekante van die bladsye.
Hoe groot wil jy die kantlyne hê? Eksperimenteer en druk uit om te sien of dit vir jou mooi lyk. Kyk na die uitleg van boeke op jou boeke op jou boekrak.
Watter grootte wil jy die boek hê? Daar is baie verskillende groottes, maar A5 en A4 is waarskynlik die goedkoopste omdat daar dan nie afgesnyde stukke papier verlore raak nie.
Kyk hoe boeke uitgelê word. Die eerste lyn van ’n hoofstuk se eerste paragraaf begin gewoonlik teen die kantlyn.
Kyk na die stelling van jou TAB – die indent. Maak seker dat dit nie te groot of te klein is nie. Hoe? Eksperimenteer. Tik ’n stuk en druk uit en kyk hoe dit lyk. Vergelyk met die boeke in jou boekrak.
Besluit op ’n font. Lees op die internet. Die Serif style word gewoonlik aanbeveel vir romans. Die Sans Serif style vir sommige ander skryfwerk.
Gee bladsynommers. Boeke se teks begin gewoonlik op ’n ongelyke getal aan die regterkant van die boek. Op Word moet jy “sections” insit aan die begin om die ongelyke eerste nommer regs te kry. Anders begin dit altyd links nommer. Gebruik die Helpfunksie.
Maak seker dat die font van die bladsynommers dieselfde is as die font wat jy gebruik.
Kyk hoe lyk die sg. French Title (net die titel) op die eerste bladsy van die boeke op jou boekrak.
Kyk hoe kan die titel bladsy lyk.
Kyk watter detail benodig word op die sg. imprint bladsy.
Kry ’n ISBN nommer as jy wil. Die e-posadres waar ’n mens kan aansoek doen (dis gratis) is op die internet. Jy gee slegs al die inligting wat op die imprint bladsy benodig word en ontvang dan ’n ISBN nommer.
’n Drukker kan jou dalk help om die ISBN se “barcode” op jou boek te kry. (Kyk na boeke op jou boekrak.)
Is daar hoofstukke? Hoe wil jy hulle aandui?
Hoe lank is jou paragrawe?
Is jou aanhalingstekens korrek?
As jy jou teks wil “justify” (soos in meeste boeke), kan Word dit doen.
Kyk na die spasies tussen woorde – kan jy langer woorde afkap aan die einde van ’n reël sodat die spasies nie so wyd is nie?
Word is outomaties so gestel dat dit “orphans en widows” (enkel sinne aan die einde van ’n bladsy) outomaties oorneem na die volgende bladsy.
c) Voorblad en agterkant: Is dit gepas? Is die kleure geskik? Is die font geskik? (Dit gaan geld kos.) Kyk na die voorblaaie van die boeke op jou boekrak en in winkels.
d) Proeflees: Laat mense wat nog nie die teks gelees het nie, dit proeflees vir foute. Vars oë sien weer ander dinge raak.
e) Drukkers:
Jy stuur die teks in PDF formaat aan die drukker. Die gedrukte teks sal dus presies so lyk. ’n Mens kan teks in PDF save met Word. Daar is ook gratis PDF verwerkers op die internet.
Daar is plekke wat net een boek op ’n slag vir jou kan druk. Vanselfsprekend gaan die prys hoër wees as wanneer jy meer druk. Soek en vergelyk pryse.
’n Drukker sal eers vir jou ’n proef stuur sodat jy kan kyk of alles reg is, voor hulle dit druk. Kyk of dit reg is soos jy dit wil hê.
Indien jy deur ’n besigheid werk wat bogenoemde die dinge vir jou fasiliteer, kry voor die tyd ’n uiteensetting van wat alles kos en wat dit behels, sodat daar nie versteekte kostes is nie. Hou aan met vrae vra totdat jy verstaan wat aangaan.
Om in volkleur te druk is baie duur, maar jy kan ‘n volkleurboekie vir jou kinders/kleinkinders van net 8 bladsye maak en dit teen ‘n billike prys laat druk. Of laat jou kind sy/haar eie boekie maak en laat dit druk!
Maak ook ooreenkomste met alle persone wat jy betaal om werk te doen, dat die werk behoorlik gedoen sal word. Definieer die begrip “behoorlik” sodat daar nie later misverstande is nie.
f) Verkoop:
Daar is plekke op die internet waar boeke in elektroniese formaat verkoop kan word. Vind uit oor alle kostes ens. Maak seker jy weet wat aangaan. Vra vrae!
Boekwinkels vra om en by 40% van die prys van die boek sonder BTW. Boekwinkels moet BTW betaal, wat dalk ook van jou verhaal kan word. Boekwinkels vereis ook waarskynlik ‘n verspreider, soos On the Dot wat die boeke namens jou versend aan boekwinkels. Verspreiders vra ook ‘n persentasie vir hulle moeite.
Omdat jy dalk min boeke op ‘n slag druk gaan, gaan jou drukkoste groter wees as wanneer uitgewers byvoorbeeld 2000 boeke op ‘n slag druk. Ek het slegs 50 op ‘n slag gedruk, dus is dit vir my glad nie lonend om deur boekwinkels te werk nie, want ek sal omtrent geen wins maak nie en dit vreet baie tyd in administrasie. Vind uit presies hoe dit werk, voor jy jou verbind tot ‘n ooreenkoms!
Laat soveel boeke druk as wat jy wil. Gewoonlik is 50 die minimum, maar plekke soos www.crink.co.za, sal net een boek vir jou druk (sover ek weet) – maar teen ‘n groter prys natuurlik. Vind uit! Gaan iemand dit koop? Gaan jy dit as geskenke gee? Wat wil jy daarmee doen? Doen! Maar beplan, maak jou somme en deurdink jou planne, voordat jy instorm. En gebruik die internet. Daar is geweldig baie inligting oor selfpublikasie beskikbaar. Vergelyk die inligting ens. ens.